Wie is jou herder?

Psalm 23:1

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

In die Bybelse tyd is die woord "herder" nie alleenlik gebruik om na 'n skaapwagter te verwys nie, maar ook gebruik om 'n koning mee aan te dui. Die Here is my herder beteken dus nie dat die Here letterlik sy "skaapwagter" is nie.

Dit beteken die Here is sy koning, en die digter sy onderdaan. Dít blyk uit die persoonlike belydenis: "my herder", wat dieselfde intieme verhouding uitdruk as die aanspreekvorm "my God" (22:2). In die Antieke Tyd kon konings nogal veeleisend optree teenoor hulle onderdane (1 Samuel 8:11-18), maar Dawid bely dat sy Koning so goed vir hom sorg dat hy niks kortkom nie: nie nou nie en ook nie in die toekoms nie.
As ek en jy vandag eerlik met onsself wil wees, wie is ons herder, ons koning, op die oomblik? Is dit dié Koning en ek die onderdaan, of is dit ekself en God mý onderdaan en in mý diens?
Ons weet mos, as God my Herder, my Koning is, sal ek net mooi niks kortkom nie.

Gebed
Hemelse Vader. Dankie dat U my Herder, my Koning is, en dat ek niks kortkom nie. Ek wil in u huis wees tot in lengte van dae. Amen.