Deernis ...

Jy sal verseker geen deernis kry as jy nie deernis betoon nie. God se deernis vir jou is egter sterker as sy oordeel. (Jakobus 2:13 - Nuwe Lewende Vertaling) Die engelse vertalings gebruik die woord "merciful".


Hierdie paragraaf begin in 2:1 met die volgende woorde: "My liewe broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus aan wie die heerlikheid behoort, terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer?" Anders gestel: "Hoe kan jy sê jy het 'n verhouding met Jesus Christus maar jy behandel mense nie met deernis nie."

Jakobus praat nogal hard wanneer hy sê dat ons nie deernis (barmhartigheid) sal ontvang as ons nie deernis betoon nie. God betoon genade aan ons, al stel ons Hom gereeld teleur. Ons is vinnig om God se deernis na ons kant toe te verstaan en te pleit oor ons lewens. Ons is ongelukkig traag om dit aan mense om ons te betoon. As ons dit nie uitleef aan mense rondom ons nie, verstaan ons dit nie.

Jesus sê self in Matteus 5 in die bergpredikasie: "geseënd is dié wat barmhartig is want aan hulle sal barmhartigheid bewys word". Jy is nie 'n swakkeling waneer jy deernis betoon nie maar geseënd. Jy toon eintlik God se hart vir mense.

Leef elke dag Jesus se deernis in jou lewe deur dit ook vir almal om jou te wees. Leef as bewysstuk van God se genade deur dit ook te betoon. Jy is nie 'n swakkeling wanneer jy dit doen nie.

Gebed
Hemelse Vader. Dankie dat U deur Jesus Christus genade aan my betoon het omdat U my liefhet. Ek wil dit ook vir ander wees. Gebruik my om dieselfde deernis wat U met mý het, aan ander te betoon.
Amen