Filippense 4:18-19
Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is - watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees -
daarop moet julle julle gedagtes rig. 9En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees.
Een van die ouens by ons weeklikse Manne-biduur het gister-oggend weer hierdie vers onder ons aandag gebring. Die gesprek het hierrondom gedraai: "Gestel ek twyfel of iets wat ek wil doen reg is, hoe weet ek of dit reg is?" Jakes se antwoord: "Toets dit altyd aan Filippense 4:18."
Verder leer vers 9 ook vir ons dat geloof nie net 'n opinie omtrent iets is nie. Geloof is nié net 'n opinie oor die eindtyd, wederkoms en ewige lewe nie. Hierdie twee verse wys vir ons die noodsaak van reg dink én reg doen. Geloof is nié alleenlik 'n belydenis nie - dis 'n belydenis wat gelééf moet word ... daagliks.
Wat jy ookal vandag doen, vra jouself of dit waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is.
Gebed
Vader, U weet dat ek nie altyd my eie belydenis as gelowige, kind van God, leef nie. Ek trek dikwels met 'n stupid opmerking of optrede 'n streep deur my eie belydenis as gelowige.
Ek onderneem om van vandag af, alles wat ek doen en sê, aan hierdie twee verse uit u Woord toets. Ek weet U stel nie belang in my opinie oor goed nie, maar in my lewe. Amen.