Het jy werklik vrede?

2 Tessalonisense 5:23

Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!


Paulus verwys hier na God as die Een wat vrede gee, 'n term wat hy dikwels gebruik wanneer hy na God verwys. (Jy kan kyk na Romeine 15:33; 16:20; 2 Kor 13:11).

Ek dink daar is baie manne vandag wat onvrede in hulle harte het; maak nie saak wat die rede daarvoor mag wees nie. Ander kies om in onvrede te leef en kweek hul eie woede. Het jy al na God gegaan, op jou knieë, en jou onvrede vir Hom gegee. Onvrede kom nié van God nie; Hy is die een wat vrede gee.
Paulus bid dat ons toegewyd aan God, onberispelik voor God sal wees. Dis dikwels vrek moeilik, veral die onberispelik. Paulus daag ons uit, nie om ons bes te doen of hard te probeer nie, maar onberispelik, sonder blaam, voor God te leef.

Gebed
Heilig God, U wat vrede gee, maak my asseblief volkome aan U toegewyd dat ek geheel en al, na gees, siel en liggaam, onberispelik sal wees en leef. Dis my wens, maar U weet ons leef in 'n sondige wêreld vol versoekings en goed waarteen ons moet stry. Ek onderneem om vandag te begin om onberispelik voor U te leef. Amen.