As jy kan, help nou!

Spreuke 3:28

Moenie vir iemand sê: "Gaan eers terug en kom môre weer, dan help ek jou," as jy nou reeds kan help nie.



Ek sien nou die ander dag 2 ouens langs mekaar op "spinning" fietse. Dis duidelik dat die een ou regtig hard wil oefen en hy werk hard. Dis ook duidelik dat sy maat langs hom, stoei met die besigheid om aan te hou trap. In sy stoeiery, probeer hy sy vriend onwetend aftrek en pla hy hom. Hy praat die heeltyd en maak grappies terwyl die ander ou net wil oefen.

Met ons gaan dit ook dikwels so. Twee persone wat besig is in hulle groei in hul verhouding met God. Die een gee sy alles en doen moeite. Die ander een sukkel om by te bly en probeer die ou wat groei aftrek.

Spreuke is reg wanneer ons lees dat ons moet help waar ons kan. Ons het as volgelinge van Jesus Christus daardie onoordraagbare verantwoordelikheid en kan ons nie losmaak daarvan nie. Die punt is net dat ons nie moet toelaat dat ander ons aftrek nie. Moenie vashaak by mense wat jou aftrek en rem in jou geloofsgroei nie.

Gebed
Hemelse Vader. Ek meld myself opnuut weer aan om ander te help waar ek kan. Wys my asseblief waar ek dalk onwetend ander mense rem en aftrek. Amen.