Daniël 2:19-22
19Toe is die geheim aan Daniël geopenbaar in ’n nagtelike visioen, en Daniël het die God van die hemel geprys. 20Daniël het gesê: “Mag die Naam van God altyd geprys word,
Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, 21Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, 22wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig.
Hierdie gebed/lofprysing van Daniël kom nadat God 'n droom van Nebukadnesar aan hom geopenbaar het. Daniël is na sy vriende om tot die God van die hemel (soos God in die Persiese tyd genoem is) te bid dat God die droom moet openbaar en hulle nie saam met die ander koninklike raadgewers doodgemaak word nie. Let daarop dat Daniël hierdie lofprysing doen terwyl hy in diens van 'n heidense koning is.
Kom ons maak die doelbewuste keuse om nié na ons land se omstandighede te kyk en dan te besluit of God hier is of nie. Ek kies om vas te hou aan dié God van Abraham, Isak en Jakob, dié God wat tye en omstandighede verander.
Gebed
Here ons God, ons bid vanoggend Daniël se lofprysing. U verander tye en omstandighede, U sit konings af en stel ander aan. Ons bely dat net U alleen ons land kan verander. Gryp in, asseblief, U by wie daar nie duisternis is nie, maar lig. Amen