Wees 'n helder lig

Matteus 5:14

“Julle is die lig vir die wêreld ...”

Maar as lig ophou om lig te wees?



Lig is wonderlik. Lig is só wonderlik dat nie eers die donkerste donkerte 'n vuurhoutjie se lig kan doodmaak nie. Dink maar net hoe dit is in die groot Van Zyl-Saal in die Kangogrotte was toe Jacobus van Zyl sy klein lampie daar ingebring het. Die donker van miljoene jare kon nie lampie se lig uitdoof nie.

Ongelukkig kan dit ook weggesteek word en dan is dit eintlik niks werd nie. Die lig onder die emmer gaan beslis nie die huis verlig nie. Dit gaan nie verhinder dat jy oor die meubels in die huis val en seerkry nie. Jy sal nie daarby kan lees of werk nie. Weggesteekte lig verloor al sy waarde ...

Ons hoef nie te wonder of ons in 'n donker wêreld leef nie ... nuusberigte en koerante het dit reeds uitbasuin. Geweld, misdaad en sonde vier hoogty. Mense kry seer omdat hulle nie weet watter kant toe nie. Ek weet – maar wat kan ék daaraan doen? vra jy dalk.

Ek en jy moet ons lig laat skyn. Jesus sê: Jy is die lig vir die wêreld. Mense sit in die duisternis vasgevang omdat ons wat aan Hom behoort, Hom nog in die geheim probeer dien.

Ons as Manne is té dikwels bang iemand sien die Lig van Jesus uit ons lewens skyn. Ekself weet nie altyd hoekom ons dit doen nie; bang, slap, skaam of dalk gewoon omdat jy nie seker is oor jou eie geloof en verhouding met die Drie Enige God nie. Maak vandag die keuse om jou lig te laat skyn. Onthou, Kango se donkerte kon nie 'n klein lampie se lig doodmaak nie. Jou liggie maak 'n verskil.

Gebed
Ag Here, ek voel soms onbekwaam en dink my liggie beteken niks nie. Ek kies vandag om, onverskrokke, amper roekeloos, my lig in mense se lewens te laat brand.
Amen