Eksodus 20:12
Behandel jou ouers met respek. Jy sal dan lank en gelukkig lewe in die land wat die Here vir jou gee om in te bly. (Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling)
My Pa het gister verjaar. Toe ek klaar met hom oor die telefoon gepraat het, toe is ek die Here dankbaar vir die goeie verhouding wat ons het. Ek het dadelik aan hierdie vers gedink en gewonder hoeveel mense hulle ouers met respek behandel.
Die teks maak nie voorsiening vir: "My pa was lelik met my!" of "My ma het my nie ondersteun toe ek haar nodig gehad het nie!" Die opdrag is duidelik: "Behandel jou ouers met respek!" Maak nie saak wat in die verlede gebeur het nie.
As jy lank laas met jou ouer/s gepraat het, bel vandag nog of stuur 'n SMS net om te hoor hoe dit gaan.
Spyt kom ALTYD te laat!
Gebed
Here, dankie dat ek 'n ouer(s) het wat my lewe kon vorm en beïnvloed, iemand deur wie ek U kon ontmoet. Net soos ek nie perfek is nie, weet ek hulle is ook nie perfek nie, maar ek dank u steeds vir hulle. Amen.