Hou jouself skoon

Job 17:9

Wie reg het, loop sy pad, wie rein voor God is, neem toe in krag.



Ek dink daar is nie een van ons wat nié rein voor en saam met God wil leef nie. Ek dink ook nie daar is een van ons wat nié in Goddelike krag wil toeneem nie. Ons doen moeite om onsself rein te maak; gaan kerk toe, lees bietjie Bybel, bid, bely sonde, behoort dalk aan 'n selgroep.

Vanoggend toe ek klaar gestort het en met 'n skoon handdoek myself afdroog, dink ek skielik daaraan dat nie een van ons onsself met 'n vuil handdoek sal afdroog nie. Ons het dan nou pas klaar gewas en is skoon. Waarom myself weer vuilmaak met 'n handdoek.

Hoe vreemd dit ookal klink, ons doen dit. Doen belydenis van sonde en maak onsself dan weer vuil met dieselfde sonde wat ons pas bely het. Min van ons is “eerste oortreders” as dit kom by spesifieke sonde wat ons doen.

Ons wíl mos in krag toeneem betreffende ons verhouding met God.
Kom ons hou op om ons “met vuil handdoeke af te droog”.

Gebed
Ag Here, ek maak myselfso dikwels weer vuil nadat U my skoon gewas het, en dit met die duurste “seep” in die hele wêreld, die bloed van Jesus Christus. Ek gaan speel soms doelbewus in die modder. Dankie dat U my soos 'n goeie Ma weer was en skoonmaak en vir my lief bly, afgesien van alles wat U van my weet. U is great! Amen.