E-Pos ontvang

Hartseer van 'n kind

Uittreksel uit e-pos wat ek gister ontvang het van 'n 20-jarige in ons Gemeente - met toestemming gebruik.

Ek het gister oggend gewens my pa was saam met my in die diens. As 'n man ten volle vir God lewe maak hy nie net sy aardse journey vir homself makliker nie maar ook sy gesin s'n. Ek is die enigste "gelowige" in ons huisgesin. My ouers en sussie glo in God maar ek glo dat wanneer jy jou alles vir God gegee het sal jou dade dit spreek en die woorde "ek is 'n christen" sal nie saak maak nie. Ons selgroep bid ook baie saam met my vir my gesin se volle bekering, maar dit voel soms nog baie ver vir my. Ek is so gereed om te vertrek na die hemel, maar ek wil nie hê dat God my eers moet kom haal voordat my ouers na Hom toe sal draai nie, ek wil so graag saam met hulle hul nuwe lewe in Christus vier. Maar ek weet dat God my en ook my vriende se gebede hoor, its just a matter of time. Gister middag nadat ek van die kerk af gekom het, het ek en my ma 'n groot uitval gehad, sy het met my baklei omdat ek al my tyd by die kerk spandeer of saam my selvriende, wens ek kon haar laat besef dat my God my alles is en ek eerder in sy teenwoordigheid wil wees as by die huis wat ek so moet vasklou aan die bietjie vryheid van geloof wat ek kry. Dis so snaaks, die week van Jaco se dood het my pa vir my gesê dat ek as christen vir hom 'n teleurstelling is, en dat hy hom skaam om my as kind te hê; mense van die wêreld het regtig geen begrip oor wat dit beteken om vir God te ken nie, my pa het my amper aangerand daai aand, maar oom, ek was nie bang nie, want die Heilige Gees het my omring, ek het dit gesien want hy kon eenvoudig nie aan my raak nie. God is groter as my vrese vir my pa ...

Ek het hierdie briefie oor en oor gelees. Sou een van mý kinders só brief aan iemand oor mý as Pa kan skryf? Ons kinders het ons liefde, onersteuning en belangstelling in hulle en hulle goeters nodig. Ons hoef nie van hulle musiek of helde te hou nie maar ons liefde aan hulle moet TASBAAR wees.

Gebed
Vader, ek bely dat ek dikwels as Pa foute maak in hoe ek teenoor my kind/ers en vrou/meisie optree; en ek wil nie. Ek onderneem om my beste te gee vir my gesin. Ek kies opnuut vandag dat ek en my huis U alleen sal sien. Amen.