Hou aan hoop en glo ...

Dit was 18 Junie 1815, die slag van Waterloo. Die Franse, onder die bevel van Napoleon, het geveg teen die geallieerde magte, Brittanje, Nederland en Duitsland, onder die bevel van Wellington.

Die mense van Engeland het ‘n vlagstelsel gebruik waarmee hulle seine deurgegee het as manier om met mekaar te kommunikeer. Op hierdie manier kon almal in Engeland weet hoe die oorlog vorder. Een van hierdie vlagseinstasies was op die toring van die bekende Winchester katedraal. Laat in die dag het die sein deurgekom: “WELLINGTON - VERSLAAN -” Op daardie oomblik het die kenmerkende Engelse miswolke inbeweeg en dit onmoontlik gemaak om die boodskap te lees. Die slegte nuus van die neerlaag het spoedig deur die stad versprei. Die hele landstreek is in rou gedompel nadat hulle die droewige nuus gehoor het dat hulle die oorlog verloor het. Maar skielik het die miswolke verdwyn en kon hulle die res van die boodskap lees. Die boodskap het vier woorde gehad en nie twee nie! Die volledige boodskap was so: “WELLINGTON - VERSLAAN - DIE - VYAND”. Dit het slegs enkele minute geneem vir die goeie nuus om te versprei. Hartseer het in vreugde verander, neerlaag in oorwinning!

Daar is baie goed wat ons dikwels keer om God se boodskap van omgee en sy liefde vir ons raak te sien. Dinge soos swaarkry, sukkel, teenspoed, siekte, werkloosheid en terugslae kan ons baie maklik laat dink dat God nie meer vir ons omgee nie. Dis maklik om te begin twyfel aan God se bystand in ons lewens. Mense rondom ons sal dan maklik sê dat ons dalk nie genoeg glo nie of net moet vasbyt … God het ‘n plan of ons moet net die groter prentjie sien. Of, God is besig om vir ons iets goed te leer uit die negatiewe goed.

Ek glo lankal nie meer die ding van “die groter prentjie” nie. Dit maak net nie sin nie.

Paulus skryf in Galasiërs 3:26 dat almal wat glo in Jesus Christus deur hulle geloof kinders van God is. As ons wat ouers is vir ons kinders net die heel beste wil gee, waarom sal God wat ‘n baie beter Pa vir ons is as wat ons ooit kan wees, dit nie ook vir sý kinders wil hê nie. Wat is die groter prentjie van egskeiding, kanker, moord of iemand wat sy werk verloor en sukkel om werk te kry?! Watter les moet ons leer nadat ‘n Pa voor sy kinders doodgeskiet word, ‘n vrou wat verkrag word of ‘n kind wat gemollesteer word? Gewoonlik laat hierdie “lesse” ons eerder twyfel aan God se teenwoordigheid in ons lewens. Ek het al aan God se teenwoordigheid getwyfel … selfs aan sy bestaan. Waarom anders gaan dit juis met goeie, gelowige Christene sleg? Jy is dalk self hier of ken ‘n Christen-vriend met wie dit op die oomblik sleg gaan.

Tussen my eie geloof en ongeloof het ek ‘n keuse gemaak: ek gaan nie my omstandighede gebruik om te sê of God bestaan of nie, by my is of nie. Ek neem God op sy woord wat sê dat ek sy kind is, dat ek ín Christus is en Hy in my. Soos die miswolke destyds gekeer het dat die mense die volle boodskap kon lees, netso wil slegte omstandighede en die duiwel keer dat ons die waarheid van God se liefde vir ons sien.

Ek weet van baie van ons Manne wat op die oomblik stoei met goed. Daar is ouens wat al maande sonder werk sit en op die punt staan om op te gee. As jy een van hulle is, pleit ek by jou om nié op te gee nie. Daar is ander Manne wat ‘n kar of huis verloor het. Moenie opgee nie. Ekself is al daar deur. Ek weet wat dit is om jou voertuig na die bank se repo afdeling te vat. Ek weet hoe dit is om te moet kies tussen rekeninge betaal of eerder kos koop. Ek ken dit. Moenie opgee nie. In my eie donker tyd is daar vriende & familie wat help en ondersteun.

Moenie hulp weier nie. Dit het my baie lank gevat om dit te leer. Ons Manne hou nie daarvan om as jy op jou broosste is, ander in die oë te kyk nie. Onthou net, terwyl jy wonder oor hoe julle hierdeur gaan kom, het jou vrou dalk gebid vir hulp. Nou kom die hulp, haar gebed word beantwoord maar jy is te trots om dit te aanvaar. Moenie dat jou trots in die pad staan van hulp nie. Ander dag help jy weer iemand. God help deur mense om jou wat jou help. Húlle is God se hande – moet dit nie wegwys nie.

Kom ons neem God vandag op sy Woord dat Hy ons liefhet. Dit kan nie vir altyd donker en mistig wees nie … dit kan gewoon net nie. Ek weet nie hoe lank dit al by jou mistig en donker is nie maar glo ook dit kan nie so aangaan nie.

Bid saam met my
Vader, ek wil vandag elkeen wat hier lees, aan U opdra. Dalk stoei hy/sy met iets op die oomblik. Hierdie iets kon dalk veroorsaak dat hy/sy in twyfel of ongeloof geval het. Ek pleit dat U asseblief uitkoms sal gee deur mense om hom/haar te gebruik. Dalk het hy/sy ‘n ander stryd, maar ek pleit steeds dat U uitkoms sal gee. Dankie dat ons altyd kan weet dat U ons liefhet, maak nie saak wat ons omstandighede is nie.
Amen