Het jy al die gevoel gekry: “Sjoe, ek kry nou die gevoel om te gaan skottelgoed was.” Ek kan nie onthou dat ek dit al gekry het nie. Maar, ek het al tot die besef gekom dat ek nóú moet opstaan om te gaan skottelgoed was.
Dis dieselfde met die gevoel om te gaan draf. Ek gaan lê dan op die bed totdat die gevoel verby is en staan dán eers op. As ons moeilike besluite moes neem op grond van hoe ons voel het ons dit waarskynlik nooit gedoen nie.
Baie mense stoei met vergifnis. In gesprekke rondom vergifnis het mense al dikwels vir my gesê dat hulle nog nie kan vergewe nie omdat hulle nog nie reg voel of gereed is om dit te doen nie. Dis ‘n mite dat mens iemand anders vergewe op grond van hoe jy voel. Die gevoel om te vergewe mag dalk nooit kom nie.
‘n Ander mite rondom vergifnis is die hele ding rondom vergewe en vergeet. Ek het mense al hoor sê dat om te vergewe en vergeet in die Bybel staan. Wel, dit staan nêrens in die Bybel nie. Ek dink dit is byna onmoontlik om te vergeet wanneer iemand iets verskrikliks aan jou gedoen het. Iemand wat gemollesteer is sal moeilik kan vergeet wat gebeur het. Dieselfde van iemand wat al in ‘n motorkaping was. Daardie herinneringe is ingegraveer in sulke slagoffers se geheue.
Die vraag vir ons elkeen vandag: “Is jy bereid om die KEUSE te maak om te vergewe.” Om te vergewe het alles te doen met ‘n keuse.
Dit is presies wat God gedoen het toe Hy gekies het om ons vir altyd te vergewe deur Jesus Christus. Ek dink as Hy op gevoel moes gaan het Hy ons nooit vergewe nie omdat die mense Hom al só dikwels teleurgestel het.
Een van die goed wat dit die moeilikste maak om te vergewe, is die skade wat aan ons gedoen is. Ons probeer dit te regverdig om nie te vergewe nie. “Weet jy wat sus en so aan my gedoen het. Weet jy ooit wat hy/sy aan my gedoen het. Hierdie is die gevolge van wat hy/sy gedoen het.” Ons kyk gewoonlik eerste na wat aan ons gedoen is en dan hoe dit ons laat voel het.
Dis alles goed en wel om al hierdie goed te verwerk, en ons móét dit doen. Maar ons moet ook op ‘n punt kom om ‘n keuse te maak om te vergeef. Ons moet ‘n wilsbesluit neem om te vergewe. Ons hou onsself gevange deur nie te vergewe nie. “Ek vergewe … selfs al doen jy dit weer”.
En as jy weer herinneringe kry aan die sleg wat met jou gebeur het, herinner jouself ook dat daar ‘n dag en datum is waarop jy hiermee gedeel en die persoon vergewe het. Vergifnis maak nie noodwendig die persoon wat vergewe moet word los nie, maar dikwels jouself. Vergifnis is tot jou eie voordeel.
Onthou, daar is niks op hierdie aarde wat verdien om nie vergewe te word nie. Nee, God sal nie verstaan as jy kies om nie te vergewe nie.
Bid saam met my
Hemelse Vader. Dankie dat U my in Jesus Christus volkome vergewe het. Vergewe my asseblief net soos ek dié vergewe wat verkeerd teenoor my doen en gedoen het.
Amen