Bly bo verdenking

Filippense 2:15

"Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld."

Ek het gistermiddag weer die voorreg gehad om 2 van my Manne weer te sien rugby speel. Dit was heerlik om langs die veld te staan en as een van hulle 'n ou getekkel het of 'n goeie beweging gehad het, ek kon sien hoe hulle oë my soek vir goedkeuring. Dit was heerlik!

Maar, ek het my ook geskaam vir ouers, ander pa's. Hulle kraak hulle kinders af en het selfs op hulle gevloek. Een pa het selfs 'n ander pa 'n idioot genoem. Ek het my ook geskaam oor hoe ons as pa's soms optree.
Paulus maan die lidmate in Filippi om ALTYD bo verdenking te bly, altyd! Daar is nie iets soos "maar hy't my eerste gevloek en sleg gesê" nie. Ons as Manne se optrede moet ALTYD bo verdenking bly, maak nie saak wat langs en om ons gebeur nie.
Tree as ligdraers op!

Gebed
Vader, U weet dat ons so dikwels as manne in ons optrede faal. Ons bely dit vandag en onderneem om as ligdraers in ons donker wêreld op te tree. Amen