Dit ís so ... al voel dit nie altyd so nie

Matteus 28:19-20

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Ek dink dit gebeur met ons almal, elkeen van ons ... "God het my verlaat. Hy hoor nie wanneer ek bid nie ..."
Nie een van ons, wat op die oomblik in Suid-Afrika is nie, kon gisteraand om 21:00 die son sien nie. Netso kon iemand aan die anderkant van die aarde sê dat daar wel so iets soos 'n son is maar kon twyfel oor die bestaan van die maan. Ons baseer dikwels God se "by ons wees" op hoe dit met ons op daardie oomblik gaan. Gaan dit goed, is God by ons. Gaan dit minder goed, het God ons verlaat.
In ons teks onthou ons die eerste deel baie goed, die deel oor die doop. Ons vergeet ongelukkig die laaste deel. "Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld." Dis hoekom Jesus se Naam ook Immanuel is: God by (met) ons.
Herinner jouself vandag gedurig daaraan dat God deur sy Heilige Gees wat ín ons is, by jou is ... al voel dit dalk nie nou so nie.

Gebed
Vader, U weet dat ek dikwels voel dat U my verlaat het. Dis soms moeilik om anders te glo. Maak asseblief my oë vandag oop deur omstandighede, vriende, u Woord of gebed. Dankie dat U in my lewe is, al sien ek U dalk nie nou nie. Amen